Pamodzi koes tot Woensdag

27 Maart 2009

(Sake24) - Pamodzi Gold het Vrydag ’n likwidasie-aansoek vir sy Vrystaatse bedrywighede tot minstens Woensdag afgeweer.

Dieselfde krediteur wat die hooggeregshof verlede week suksesvol gevra het om Pamodzi se Orkney-myn voorlopig te likwideer, het Vrydagoggend met die goudmaatskappy geskik en die nuwe likwidasie-aansoek laat vaar. Vier ander eisers het egter toegetree met verdere eise teen Pamodzi se President Steyn-myn in die Vrystaat, sê mnr. Johan Engelbrecht, ’n insolvensie-kenner van die vakbond Solidariteit.

“Die krediteure dwing Pamodzi nou tot likwidasie,” sê hy.

Pamodzi het glo ooreengekom om teen Woensdag dié krediteure te betaal. Engineering Labour ?Hire, die arbeidsmakelaar agter albei likwidasie-aansoeke, het ’n R22 miljoen-eis teen Orkney gehad, maar net ’n betreklik klein R430 000-eis teen President Steyn.

Dié skuld is glo ter elfder ure deur Pamodzi vereffen.

Die beleërde goudmaatskappy het ook die Orkney-likwidasie probeer skik, maar die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (NOK) het hom toe as eiser aangesluit met ’n R100 miljoen-eis wat dié van Engineering Labour Hire en twee kleiner krediteure verdwerg het.

Die President Steyn-myn, wat volgende week steeds voorlopig gelikwideer kan word, staan intussen stil nadat sy watertoevoer verlede week afgesny is weens wanbetaling.